Net die werkers kan die werkers bevry: ‘n Inleiding tot die Workers Solidarity Federation – WSF, Afrikaans, undated

Net die werkers kan die werkers bevry - WSF Afrikaans

Net die werkers kan die werkers bevry

Download PDF

Hierdie pamflet is ‘n kort inleiding tot die Werkersolidariteitsfederasie (Suid-Afrika) se politieke idees. Ons is ‘n libertaries sosialistiese anargo-sindikalistiese) politieke organisasie.

Werkers se stryd teen die base

Die WSF glo dat daar twee hoofklasse in die huidige kapitalistiese samelewing is:

  • die regerende klas:  Base/kapitaliste, generaals, hoë regeringsamptenare en  die politici
  • die werkende klas:  bloukraagwerkers, witkraagwerkers, werkers in die dienssektor, armes, werkloses, afgeskeepte jeugdiges en laag besoldigde soldate.

Daar is ook ‘n middelklas: professionele werkers, eienaars van klein besighede en middelvlak bestuur. Oor die algemeen ondersteun hulle die regeerders, alhoewel ‘n minderheid die werkers ondersteun.

Die base besit die fabrieke, banke, myne, winkels ens. Werkers nie.

Al wat die werkers besit, is hulle vermoë om te werk. Werkers en hulle families moet vir die base werk om aan die lewe te bly.

Die werkers maak al die rykdom. Hulle bou die paaie, skole, geboue en die goedere in die winkels, ens. Hulle vervoer goedere en werk in die winkels.

MAAR hulle beheer nie die rykdom wat hulle skep nie.

Werkers bou karre, maar besit selde een. Hulle maak universiteite skoon, maar ontvang swak onderwys. Hulle verbou plase, maar ly self honger. Hulle bou rykes se huise, maar woon in pondokke en enkelkamergeboue.

Die base eien al die rykdom toe wat die werkers maak. Alles wat die werkers maak, word besit deur die base: As ‘n werker ‘n kar bou, besit die maatskappy dit.

Die base verkoop die goedere. Hulle gee ‘n klein gedeelte van hulle wins vir die werkers. Die res behou hulle.

Werkers grawe die goud uit, maar verdien maar ‘n paar honderd rand ‘n maand. Die base verkoop die goud en maak miljoene per maand. Dit is hoe die base hul werkers uitbuit.

Die base se rykdom word van die werkers gesteel.

Die werkers kry ‘n lae loon en word arm.  Die base kry hoë winste en word ryk.

Dit is hoekom die baas soveel moontlik werk uit sy werkers wil pers vir die laagste moontlike lone. Dit bied hulle hoër winste.

Goedere en dienste word nie geproduseer om die behoeftes van gewone mense te voorsien nie. Produksie is vir wins. Alhoewel daar genoeg kos is om elke persoon in die wêreld te oorvoed, sterf mense omdat dit nie winsgewend vir die base is nie.

Teen kapitalisme

Dit is kapitalisme: die vis-vreet-vis wêreld van winste en uitbuitery. Dit is moderne slawerny:  loonslawerny.

Die belange van die werkersklas en die regerende klas is in totale opposisie teenoor mekaar. Die werkers en base kan nooit verenig nie, weens hulle fundamenteel verskillende klasbelange.

Terwyl daar miljoene der miljoene werkers is wat niks het nie en ‘n minderheid lekker lewe, kan daar nie vrede in ons samelewing wees nie. Daar is ‘n oorlog aan die gang tussen die twee klasse:

‘N klasseoorlog.

Werkers, verenig!

ONS glo dat dit vir werkers noodsaaklik is om teen die kapitalisme as geheel en spesifiek hulle eie base terug te veg.

Verdeeldheid tussen die werkers verswak hulle. Dit maak dit moeilik om te organiseer teen die base, deur wie ons uitgebuit word. Sodoende ondermyn verdeeldheid die reeds lae lewensgehalte van die werkers. In plaas van om verdeeld te wees, moet ons verenig.

‘n Verenigde werkersklas sal nooit oorwin word nie.

Net ‘n verenigde werkersklas kan kapitalistiese uitbuiting en die erfenis van apartheidsonderdrukking beëindig. Ons staan vir die vereniging van werkers, vir werkers om te verenig in ‘n stryd teen rasisme, kapitalisme en alle onderdrukking, vir werkers om te verenig sonder onderskeid tussen velkleur, taal, geboorteland of geslag.

Apartheid het kapitalisme gebou

Die stryd van swart werkers in Suid-Afrika is ‘n stryd teen kapitalistiese loonslawerny.

Ons glo dat apartheid kapitalisme gebou het. Kapitalisme het apartheid veroorsaak.

Apartheid was ontwerp om base ‘n goedkoop arbeidsmag te gee. Hierdie arbeidsmag het deur onderdrukkende en rasistiese wette tot stand gekom om die arbeidsmag goedkoop, sonder regte en onder beheer te hou.

Goud is gedurende die 1870’s in Suid-Afrika ontdek.. Die base het besef dat hulle massiewe winste kon maak, maar daarvoor het hulle die goekoopste arbeid moontlik nodig gehad.

Weens Suid-Afrika se koloniale geskiedenis was hulle hoofsaaklik wit.

Die maklikste manier om goedkoop arbeid te kry, was om ‘n hoogs uitgebuite swart werkersklas te skep.

Weens Suid-Afrika se koloniale geskiedenis het arm swartes geen regte gehad nie (ryk swartes is uitgesonder en het verskeie voorregte gehad).

Dit het dit maklik gemaak vir die base om

  • arm swartes te dwing om op die myne en plase te werk
  • swart werkers se lone laag te hou

Nuwe wette is gemaak om arm swart boere te dwing om op die myne te werk. Daar was nuwe belastings wat met geld betaal moes word. Dit het veroorsaak dat jong mans dorp toe moes gaan om geld op die myne te verdien. In die meeste gevalle het die stamhowe met die werwing van werkers gehelp.

In die stede het die base die mynwerkers in kampe laat woon. Die doel van die kampe was om die werkers in slaafagtige toestande te hou, sodat hulle noukeurig beheer kon word. Wanneer die werkers weerstand gebied het, is hulle in die kampe toegesluit.

Hierdie swart werkers was swerwers d.w.s. hulle het vir ‘n beperkte tydperk na die stede gekom, terwyl hulle families op die platteland gewoon het. Sommige van hulle was van Suid-Afrika afkomstig terwyl ander weer van lande soos Lesotho, Mosambiek, Zambië en Zimbabwe gekom het.

Die paswette is geskep om te verseker dat die werkers net lank genoeg in die stad gebly het om vir die base te werk. Daarna moes hulle terug gaan na hulle reservate of townships.

Die nomadiese arbeidsmag het baie voordele vir die base gehad. Dit het onder andere plakkersbuurte stadiger laat groei en het dit moeilik vir werkers gemaak om te organiseer.

‘n Nomadiese arbeidsmag het vir die base die verdere voordeel gehad dat hulle minder belasting vir die onderhoud van skole, huise ens. moes betaal. Voor die 1950’s was daar baie min regering befondsde swart skole in Suid-Afrika.

‘n Nomadiese arbeidsmag het lone laag gehou: die base het geredeneer dat die families van boerdery kon lewe en dat as die werkers siek of oud geword het, kon hulle terug platteland toe gestuur word met min of geen pensioen.

Omdat hulle swart was, het hulle geen regte gehad nie: hulle was nie toegelaat om te organiseer of vakbonde te vorm nie.

Toe hulle teruggeveg het, was die base genadeloos: hulle het alle stakings met geweld vernietig. In die geval van die myne is die groot stakings van 1918, 1946 en 1986 almal wreedaardig onderdruk. Swart vakbonde is eers in 1979 deur die regering erken.

Die mikpunt van apartheid na 1948 was hoofsaaklik om lone laag te hou.

Die lae betalingstelsel het bly sukkel in die 1940’s. Die niomadiese arbeidstelsel was besig om ineen te stort omdat die reservate (oftewel “tuislandë”) te arm geword het om in te boer en baie swart werkers begin het om permanent in die stad te woon.  Hulle het begin om sterk opposisiegroepe en vakbonde te vorm en is gereeld deur die Kommmunistiese Party gelei.

Die apartheidstelsel het probeer om werkers terug na die reservate te verdryf sodat hulle weer nomades kon word. Die stelsel het ook probeer om die passtelsel te versterk en dit is selfs op vroue van toepassing gemaak. Die sisteem het ook weerstandsbewegings en vakbonde vernietig.

Apartheid het ook probeer om die gebrek aan politieke regte vir swart werkers te regverdig deur te beweer dat hulle burgers was van die een of ander reservate.  So het die regering probeer om etniese verdeeldheid tussen die swart werkers te skep.

Die kapitalisme is deur apartheid uitgebou. Kapitalistiese ontwikkeling in Suid-Afrika was gebaseer op antiwerker regeringsbeleid wat ‘n goedkoop swart arbeidsmag veroorsaak het.

Apartheid het grootskaalse swart lyding en armoede veroorsaak.

Hierdie beleid was rassisties omdat dit net op swart werkers toegepas is. Om hulle beleid te verdedig, het hulle rassistiese teorie ë geskep wat onder andere ingesluit het dat hoe donkerder jou vel is, hoe minder aanspraak kon jy maak op politieke regte, opleiding, sosiale fasiliteite ens.

Die rassistiese kenmerke van die Suid-Afrikaanse kapitalisme lê in sy koloniale geskiedenis, toe die koloniste klas die idee van geen gelykheid in kerk en regering tussen swartes- en wittes sterk voorgestaan het.  Rasistiese onderdrukking en teorieë het ontstaan in hierdie tydperk van kolonialisme en slawerny.

Die kampongstelsel, nomadiese arbeidsmag, paswette en die verbod op swart vakbonde       dit is uit hierdie verdrukking wat die reuse winste van die rykes in Suid-Afrika gemaak is.

Verdeel en heers

Ons glo dat die rassisme gebruik is om werker teen werker te stel en onderlinge verdeeldheid te regverdig. Dit verswak die werkers se stryd. Dit staan bekend as “verdeel en heers”.

By elke myn is die werkers van elke etniese groep en taal in verskillende kampongs gehuisves. Deur so die werkers te verdeel en hul stamverskille te beklemtoon, het faksies ontstaan wat mekaar beveg het.

Hierdie gevegte het die base gehelp aangesien dit moeilik is om werkers wat teen mekaar veg te organiseer. So is die werkers verswak.

Vanaf 1870 het die aantal wit werkers begin toeneem in Suid-Afrikaanse stede. Sekeres was “arm blankes” wat beide Suid-Afrika en Europa afkomstig was.

In hierdie vroëre jare was hierdie werkers besonder militant veral omdat hulle met die sosialisme en vakbonde in europa te doene gekry het.

Hulle het ook onder haglike toestande gewerk: op die myne het meer as die helfte van die wit werkers aan myntering gely. Die meeste vakbonde iss verbied, en toe die wit werkers algemene stakings in 1907, 1913, 1914 en 1922 uitgeroep het, is die stakings deur die weermag vernietig, die immigranteleiers gedeporteer en die res van die leiers gehang.

Die base het besluit om die wit en swart werkers te verdeel. Hulle was bang vir ‘n verenigde werkersklas, want in 1913 het wit en swart mynwerkers saamgestaan.

Die base het toe wit en swart werkers verdeel deur wit werkers die beste werk saam met goeie lone te gee. So het hulle die wit werkers se ondersteuning verkry.

Verder het hulle ook swart, Indiese en “kleurling” werkers verdeel. Hierdie werkers is ook verdruk deur apartheid.

Deesdae probeer die base die werkers laat glo dat immigrante van Mosambiek en Zimbabwe ons huise en werk neem en dat Nigeriërs en Zaïrese  misdaad veroorsaak. Dit is dieselfde ou spel van verdeel en heers.

Hoe apartheid vernietig is

Die einde van apartheid in 1994 wys wat verenigde werkers kan uitrig.

Massa aksie deur die werkers en die armes het die ou regering gedwing om te onderhandel.  Massa aksie deur die vakbonde het die regering gedwing om die wettige rassistiese verdrukking te staak.

Dit is wat ons kan regkry:  as miljoene werkers saamwerk, word die base bang.  Hulle voel ons mag. Hulle sien ons mag.

Omdat die ekonomie in ‘n krisis gedompel was en omdat werkers weerstand gebied het, is die base gedwing om apartheid te beëindig.

Na apartheid: wat volgende?

Die stryd het apartheid beëindig. Dit was ‘n groot oorwinning. Ons het nou sekere basiese politieke regte: vryheid van spraak, vryheid  om te organiseer, verdediging teen rassistiese en seksistiese wette en vryheid teen diskriminasie.

Alhoewel ons apartheid oorwin het, het on nog nie die kapitalisme oorwin of van die base ontslae geraak nie. Die regering arresteer nog steeds die werkers. (Kyk na die afdeling oor regerings verder aan.)

Alhoewel ons nou basiese politieke regte het, het ons geen ekonomiese regte nie. Ons het geen beheer oor ons werksplekke en gemeenskappe nie. Die base steel nog steeds die produk van ons werk.

Daar is ‘n groeiende aantal swart base.  Hierdie swart base het dieselfde klasbelange as die wit base. Hulle is ewe gretig om werkers af te dank en lone te verlaag.  Hulle is ook lede van die regerende klas.

Dit is duidelik dat swart werkers nie moet saamwerk met enige base nie, of hulle nou wit of swart is.

Kapitalisme en rassisme: een vyand, een stryd

Weens apartheid ly swart werkers aan probleme soos:

  • swak skole vir hulle kinders
  • onderontwikkelde townships met swak paaie en sanitasie en hoë misdaad
  • massiewe werkloosheid
  • die apartheidsloongaping
  • rassisme by die werksplek

Ons meen dat hierdie probleme nie deur die kapitalisme opgelos kan word nie.  Terwyl die rykdom in die hande van ‘n paar base is, sal die geld nie beskikbaar wees om die erfenis van apartheid te vernietig nie. Ons moet die rykdom van die base af terugvat en dit onder werkersbeheer plaas. Dan kan ons die ekonomie gebruik om ons gemeenskappe en werksplekke te herbou. Ons is siek en sat van die rassisme en van base. Ons het demokrasie en beheer oor ons werk nodig.

So lank as wat ons ons in ‘n kapitalistiese ekonomie bevind, sal die base rassisme ondersteun om werkers te verdeel. Die kapitalisme het apartheid en die rassisme veroorsaak.  Die rasisme kan eers vernietig word wanneer die kapitalisme vernietig  word.

Ons moet veg vir die herverdeling van plase, die verbetering van vroeëre swart skole, ‘n verbetering aan die leerling tot onderwyser verhouding, vir gratis onderwys en demokratiese onderwysmetodes in alle afdelings van die onderwys, regstellende aksie in hoofsaaklik wit werke, ‘n einde aan die apartheidsloongaping, verbeterde opleiding vir swart werkers en grootskaalse huisbou-, padbou- en elektrisiteits voorsieningsprogramme.

Alle aanvalle op immigrante en pogings om immigrante en Suid-Afrikaanse werkers te verdeel, moet teengewerk word.

Vroue se vryheid

Vroue word daagliks uitgebuit en verdruk.  By die werk kry hulle lae lone, ongeskoolde werk en het min werksekerheid.  Hulle probleme eindig nie by die werksplek nie: wanneer hulle by hul huise kom, het hulle ‘n skof huishoudelike werk en kry min of geen hulp van hulle mans of kêrels nie.

Dan word vroue nog aan geweld blootgestel.  Duisende vroue word elke jaar aangerand, verkrag en emosioneel uitgebuit.

Die onderdrukking van vroue is in die kapitalisme en die regering se belang.  Deur vroue swak werk met geen werksekerheid en lae lone te gee, skep die base ‘n supergoedkoop arbeidsmag wat in diens geneem en afgedank kan word soos die base lus het.

Die base hou vroue se lone laag en hulle eie winste hoog deur vroue as deeltydse  of loswerkers in diens te neem en dan hulle regte en voordele soos swangerskapregte te weier.

Die base gebruik die verdrukking van vroue om die werkers te verdeel en hou sodoende almal se lone laag.  Goedkoop vrouewerkers word gebruik om manswerkers mee te dreig: manswerkers word gedreig dat vroue hulle sal vervang as hulle vir hoër lone en beter werksomstandighede veg.  Dit verdeel mans en vroue en keer hulle om teen die werklike vyand, die baas, te veg.

Vroue se onbetaalde werk tuis gee die base die volgende geslag werkers gratis.  Vroue doen die kook, skoonmaak en opvoeding gratis.  So ook sien hulle om na die siek en ou werkers.

Dit is hoekom die base se magtige media (koerante, radio, televisie, boeke en advertensies) seksistiese idees oor vroue ondersteun deur haatvolle en uitbuitende idees en beelde van vroue te bied.  Die media ondersteun idees soos dat vroue veronderstel is om aan mans ondergeskik te wees en dat die verdrukking en uitbuiting van vroue geregverdig is.

Manswerkers trek nie fundamenteel voordeel uit die verdrukking van vroue nie.  As mans- en vrouewerkers saam sou staan, sou hulle kon voordeel trek uit hoër lone en dus hoër gesinsinkomste, minder geldprobleme en sterker werkerseenheid.

Mans- en vrouewerkers moet verenig teen die kapitalisme en die base. Ryk en arm vroue se belange verskil. Die enigste manier waarop werkersklas vroue bevry kan word, is as hulle die sisteem wat hulle in die eerste plek verdruk, naamlik die kapitalisme, beveg.

Ons bou vandag al aan môre.. Ons moet veg vir gelyke lone vir gelyke werk, toeganklikheid vir vroue tot werk wat tradisioneel hulle geweier was, vir werksekerheid  vir vroue, vir gratis 24 uur kindersorg uit die base en regering se sakke, vir betaalde swangerskapverlof en gewaarborgde herindiensneming en ‘n einde aan geweld teen vroue.  Mans moet hulle deel van die huiswerk doen.

Vroue moet ‘n gelyke reg tot alle posisies van ‘leierskap’ hê in massa-organisasies.  Hulle moet toegang verkry tot gratis veilige aborsie op aanvraag en gratis gesondheidsorg.  Hiedie stryd moet in die fabrieke en townships gestry word.

Kan vryheid vir werkers deur die regering kom?

Baie mense sê dat vryheid vir die werkers en sosialisme deur die regering moet kom.  Ons word vertel dat as ons aan verkiesings deelneem, ons “politieke mag” sal verkry om te gebruik om “ekonomiese mag” (d.w.s beheer oor myne, fabrieke en plase) te kry.

Ons voel dat hierdie idees foutief is.

In die eerste plek veroorsaak verkiesings dat militante werkers en sosialiste hulle beginsels los.

Kyk byvoorbeeld na die sogenaamde Arbeidersparty in Brittanje: hulle gaan nie na  die mense met sosialistiese idees nie. Hulle sê wat ook al populêr is om verkies te word i.p.v. om vir mense te verduidelik wat die sosialisme beteken.

Hulle kry nie mense aan die beweeg nie: hulle organiseer nie die mense om hulself op die voetsoolvlak te bemagtig nie.  Mense word as kiesers gesien, nie as persone wat polities aktief moet word en dir sosialisme moet bou nie.

Wanneer die politici ons stemme het, vergeet hulle gou hulle ondersteuners en verbreek hulle hul beloftes aan die kiesers.

Waar lê politieke mag?

Daar is ‘n tweede rede waarom ons voel dat die sosialisme en vryheid nie deur parlement kan kom nie: mag in die samelewing lê nie in die parlement nie.  Dit lê in maatskappye se direksiekamers, in die onverkose dele van die regering en weermag.

As ons sou probeer om die sosialisme deur parlement te bou, sou hierdie magte ons gekeer het.

Geld sou die land verlaat en die ekonomie sou in ‘n krisis beland.  As dit ons nie sou keer nie, sou die regeringsbeamptes probeer om revolusionêres deurmekaar te maak,  te saboteer en te korrupteer. As dit ons nie sou stop nie, sou die weermag teen ons draai.

As ons kyk na Chile, sien ons dit duidelik.  In 1973 het sy burgers ‘n gematigde sosialistiese regering met president Allende verkies.

Hierdie demokraties verkose regering is vernietig deur ‘n CIA (die CIA is ‘n spesiale afdeling van die VSA se regering) ondersteunde staatsgreep. In die daaropvolgende verdrukking het duisende militante werkers hulle lewens verloor en is al die werkersbewegings vernietig.

Daar was twee redes hiervoor: die Chiliaanse sosialiste het nie verstaan dat mag in maatskappye se direksiekamers lê en nie in die parlement nie.  Die tweede rede is dat hulle nie probeer het om die regering direk te vernietig nie.  Hulle wou dit versigtig en ongewelddadig doen.  Die weermag en polisie is daar om die regerende klasse te beskerm en die rykdom in hulle hande te hou, nie om ons te beskerm nie.

Allende het geweier om die mense te bewapen en het dus die weermag se taak vergemaklik.

Wat is die regering?

Maar hoekom is dit so?  Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons verstaan wat ‘n regering is.

Die staat (regering, weermag, howe, polisie ens.) is die resultaat van ‘n kapitalistiese, klasgebaseerde samelewing waar 5% van die bevolking 85% van die rykdom besit, waar 120 000 kapitalistiese boere amper al die plase besit en waar 5 groot maatskappye 80% van al die aandele op die effektebeurs besit.

Een wet vir rykes en ‘n ander wet vir armes

Selfs onder die nuwe regering is daar verskillende wette vir rykes en armes.  Die nuwe regering is ook ‘n regering vir base.

As die werkers staak, kry hulle te doen met rubberkoeëls en polisiehonde.  Hulle word aangeval deur die media (televisie en koerante) omdat hulle “die ekonomie benadeel”.

Maar die base wat werkers uitbuit, afdank en armoede veroorsaak word nooit gestraf nie.

In 1997 het die kamer van mynwese 150 000 werkers afgedank. Hierdie werkers  het geld vir hulle families verdien. Die base het dus byna ‘n miljoen mense, indien nie meer nie, laat honger ly.  Hulle het dus nie toegang tot kos, medisyne of skoolklere nie. Hulle kan nie huur, elektrisiteit en water betaal (en dus gebruik) nie.

Die mynbase is skuldig aan verdrukking mense laat sterf aan hongerte.

Maar hulle word nie eers gearresteer hiervoor nie.

Daar is nie eers ‘n wet hierteen nie.

Sou werkers ‘n solidariteitstaking hou teen die afdankings, sou hulle staking onwettig wees.  Hulle sou daarvoor afgedank, gearresteer of selfs in ‘n hof aangekla kon word.

In plaas van om base vir hulle misdade teen werkers te arresteer, dwing die staat die base se keuses op werkers af en beskerm dan nog die base teen die werkers se woede.

Elke staat in elke land tree so op.  Elke staat in die wêreld verdedig base.

Dink jy nog dat regerings die werkers beskerm?

As jy nog steeds so dink, onthou dat die regering se grootste inkomste BTW is, wat deur normale mense betaal word.  Maatskappye betaal minder as 25% van alle belasting.

Parlement of demokrasie

Daar is ‘n derde rede waarom ons teen die gebruik van parlemente is: parlemente is nie egte demokrasie nie.

As ons stem, oorhandig ons ons lewens oor aan 400 mense in die parlement. Ons kan net elke 5 jaar besluit of ons tevrede is of nie. Intussen kan hulle doen wat hulle wil. Hulle geniet die lewe: hulle word ryk en lewe gemaklik. Hierdie 400 mense besluit vir 38 miljoen mense wat met hulle gaan gebeur.

Die parlement gee ons geen demokratiese beheer oor ons lewens in die werksplek  en in die gemeenskap nie.

Ons as werkers moet besef dat regerings ons base se gereedskap is en dus deel is van die probleem.

Hoe kan ons dus die base oorwin?

Ons kort nog steeds drastiese veranderinge in hierdie land en reg oor die wêreld as ons vryheid vir die werkers wil hê.

Hierdie veranderinge kan net plaasvind op voetsoolvlak. Vryheid kan nie deur die regering of die kapitalisme kom nie.

In ons politieke idees is dit van oorheersende belang dat gewone mense die revolusie moet bou. Almal in die werkersklas (werkers van beide geslagte, werkloses ens.) het hul deel.

Net die werkersklas het die grootte, klasbelange en krag vir die massa-organisasie wat benodig word om die uitbuitingsisteem te vernietig.  Net hulle kan ‘n vrye samelewing skep, omdat net hulle nie uitbuit nie.

Die sosialisme vanaf die voetsoolvlak

Vryheid kan nie gegee word nie. Dit moet gevat word.

Ons moet ons organisering op die voetsoolvlak doen. Vryheid sal nooit deur verkiesings kom nie. Die sosialisme kom nie deur “sosialiste” te verkies na ‘n parlement nie, maar deur die direkte aksies van werkers deur fabrieke en plase oor te neem. Die sosialisme kan net van onder af kom, nie van bo af nie.

Die sosialisme kan net geskep word deur die revolusionêre algemene staking, wanneer die werkers, georganiseer in hul vakbonde, die kapitaal oorneem en self bestuur.

Sosialisme sal nooit deur regering kom nie. Sosialisme sal die regering vervang met werkers- en gemeenskapsrade (sien onder).

Idees en organisasie: sleutels tot revolusie

As die werkersklas verdrukking, die kapitalisme en die regering wil vernietig en dit vervang met mag vir werkers en sosialisme, moet twee dinge gebeur:

  • Die werkersklas moet verenig word.  Werkers se krag lê in massa-aksie en organisasie.  Alle werkers moet verenig word en sterk genoeg wees om die koalisie van uitbuiters en verdrukkers te vernietig.  Hulle moet ook internasionaal verenig wees. As die revolusie net in een land plaasvind, sal dit maklik vernietig van buite word. Die revoluse moet internasionaal wees.
  • Die werkersklas moet ‘n duidelike idee hê van die nuwe samelewing en hoe om dit te bou. Soveel werkers as moontlik moet die stryd vir die nuwe samelewing ondersteun en daarvoor veg.  Hulle moet teen ‘n nuwe regering en vir selfbestuur veg.

Revolusionêre vakbonde

Dis goed en wel om te glo in ‘n revolusie, maar die revolusie moet ook gebou word.  Dit is die werkers se taak en hulle sal goed georganiseerd daarvoor moet wees.

Ons meen die werkers se belangrikste gereedskap om die revolusie te bou, is die vakbonde.

Vakbonde is die strydorganisasies van die werkers.  Hulle is geskep om werkers se belange teen die base te beskerm en te bevorder.

Om die vakbonde revolusionêr te maak, moet twee belangrike dinge gebeur:

  • die vakbonde moet onder die beheer en bestuur van sy lede kom. Vakbonde  moet op voetsoolvlak demokrasie gebaseer wees en nie deur voltydse betaalde beamptes bestuur word nie.  Die vakbonde moet gebaseer wees op die selfaktiwiteite van sy lede.  Daar moet so min as moontlik voltydse poste beskikbaar wees.
  • Die vakbonde moet radikaal en militant word.  Hulle moet streef na revolusie.  Die lede moet geen vertroue in die politici en hul partye hê nie.  Die vakbonde  moet onafhanklik van alle politieke partye wees.  Hulle moet onderneem om  te organiseer vir ‘n revolusionêre algemene staking waar die werkers die  fabrieke en plase oorneem.

Ons wil ‘n voetsoolvlakbeweging bou wat alle werkers in sou sluit.  Die hoofdoel van  die beweging sou wees om solidariteit tussen alle werkers aan te moedig.  Dit sou  stakings, die stryd vir demokrasie in die vakbonde en gelyke regte vir vroue voorstaan en alle aanvalle deur die base om ons vir hulle krisis te laat betaal, teenstaan.

Die vakbonde kan die werkers organiseer om die fabrieke, kantore, plase en myne oor te neem en self te bestuur in ‘n revolusionêre algemene staking.

Internasionale werkerseenheid

Soos ons vroeër gesê het, meen ons dat alle werkers dieselfde basiese klasbelange het.

Alle werkers sou voordeel trek uit ‘n wêreld sonder base.  Alle werkers sou voordeel trek uit werkerseenheid.

Ons besef dat werkers soms bitterlik verdeeld is.  Dit is wat die base wil hê aangesien ons nie hulle kan beveg as ons teen mekaar veg nie.

Die WSF ondersteun eenheid onder werkers.  Ons wil hê dat werkers in verskillende lande moet verenig.  Ons is een klas met een stel belange.  Of jy in China, die VSA of Zambië woon, maak nie eintlik saak nie, aangesien ons dieselfde vyand het:  die internasionale kapitalisme.

Die kapitalisme is ‘n internasionale stelsel en moet internasionaal uitgeroei word.  As die revolusie in een land plaas vind, sal dit vernietig word deur die buiteland.  Militêre invalle, blokkades en sanksies sal gebruik word om die revolusie te probeer vernietig.

Die enigste manier om te wen, is om die revolusie so ver as moontlik te versprei.  As al die werkers veg, kan ‘n klein minderheid kapitaliste tog nie oorwin nie.

Dus ondersteun ons werkerseenheid oor landsgrense, taalgrense en rassegrense.  In Suid-Afrika word die werkers sterk volgens ras verdeel.  Dit is deels die base se skuld omdat hulle die wit werkers voorgetrek het om hulle steun verkry.

Die hoofkrag van die revolusie in Suid-Afrika sal die swart werkers wees.  Hulle is die grootste, mees militante en die beste georganiseerd.

Dis moontlik dat met die beëindiging van werkreservering en ander vorms van diskriminasie, die wit werkers hulle by hul swart medewerkers sal skaar.  Daar is alreeds stappe in daardie rigting: die aansluiting van SASBO by COSATU.

Ons ondersteun hierdie eenheid, maar ons besef dat hierdie eenheid net deur die antirasistiese politieke idees van werkers gehandhaaf kan word.  Ons meen ook dat die revolusie in Suid-Afrika op die swart werkers, met of sonder bondgenote, gebaseer sal wees.

Werkerseenheid in die stryd teen uitbuitery en verdrukking is die enigste wesenlike pad.

Werkers van die wêreld, verenig!

Hoe sou libertariese sosialisme lyk?

Ons het nou soveel keer al die term “libertariese sosialismë en die idee van “selfbestuur” gebruik!!  Kom ons verduidelik hoe ons die toekoms sien.

In plaas van rassisme, verdrukking van vroue en die uitbuiting van werkers, sal daar volkome sosiale en ekonomiese gelykheid vir almal wees.

In plaas van regering en die kapitalisme, sal daar werksplek- en gemeenskapsrade  wees wat op die voetsoolvlak verkies word.

In die gemeenskap sal die rade op blok- en straatvlak gebaseer wees. In die werksplek sal die rade vakbondrade en  strukture gebaseer wees wat op voetgsoolvlak vakbondrade verkies.

Die rade sou federeer sodat besluite oor groot areas geneem kon word. ‘n Demokratiese werkersweermag sou die werkers verdedig.  Hierdie weermag sou onder die beheer van die bogenoemde rade gewees het.

Afgevaardigdes sou van elke area en werksplek gestuur word.  Hierdie afgevaardigdes sou herroepbaar wees: as die kiesers ontevrede met hulle aksies is word hulle dadelik vervang.

Daar sal geen kapitalisme of regering wees nie.  Daar sal ‘n internasionale werkers demokrasie wees gabaseer op beheer van onder.  Die hele wêreld deur die federasies van werkersrade verenig word..

Daar sal geen kapitalistiese stelsel wees nie.  In plaas van ‘n samelewing gebaseer op geld en wins, sou die samelewing gebaseer wees op werkersbeheer van die fabrieke en die vervulling van menslike behoeftes.

Daar sou egte individuele vryheid wees.  Almal sou moes bydra tot die samelewing, maar sou vry wees om te doen wat hulle wil, solank as wat dit nie ander se vryheid inperk nie.

Waarom ons nie die marxisme of Rusland ondersteun nie

Hier verskil ons egter met die Marxistiese sosialiste wat Rusland en China ondersteun.

Volgens hierdie sosialiste, moet sosialisme deur die regering verwesenlik word: “sosialistiese” regerings gelei deur die “revolusionêre” voorhoede van die party (“vanguard of the party”), d.w.s. die “kommunistiese” party.   Volgens hierdie sosialiste moet ‘n klein groepie die revolusie maak vir die res van die bevolking.

Volgens Lenin, die Russiese leier, sou werkers nooit aan meer as “brood en botter” vanself dink nie en ook nie sosialisme bou nie. Volgens hulle moes sosialisme deur ‘n klomp middelklas “intellektuele”, lede van die politieke party van “professionele revolusionêres” gebou word.

Dit is twak!

Die resultaat van daardie denke is duidelik sigbaar in beide die (voormalige) “Sowjet” Rusland en “Rooi” China.  Beide was diktatoriaal.  Werkers was nie toegelaat om vakbonde te stig, te staak, te vergader of stryd te voer nie.

Wat in hierdie lande bestaan het, het niks met die sosialisme uit te waai nie.

Die mag was in die hande van ‘n klein minderheid.  Die regering was baas en die werkers is ook uitgebuit en gesê wat om te doen. Ons noem dit staatskapitalisme.

Werkers het nie hulle werksplekke beheer nie. Al die mag was in die hande van die sogenaamde “kommunistiese” party.

Die ineenstorting van hierdie lande is nie die ineenstorting van die sosialisme nie.  Dit was die ineenstorting van die staatskapitalisme.

Kan dit werk?

Jy stem seker saam dat wat jy tot dus ver gelees, het meestal goeie idees is.  Jy stem seker ook saam dat die rykdom van die samelewing eweredig versprei behoort te word en dat gewone mense meer beheer oor hulle eie lewens behoort te hê.

Maar kan dit werk?  Kan gewone mense die wêreld so verander?

Kom ons kyk na ons geskiedenis. Omdat libertariese sosialisme (anargo- sindikalisme) so ryk ‘n geskiedenis het, het ons net ruimte vir een voorbeeld:  Die Spaanse revolusie (1936-7)

Die Spaanse revolusie (1936-7)

Die Spaanse revolusie was die produk van jare se geduldige organisering deur libertariese sosialiste (anargo-sindikaliste).

‘n Massiewe revolusionêre vakbondfederasie, die CNT (nasionale arbeids  konfederasie) is in 1911 geskep.  Dit het twee hoofdoelwitte gehad:  eerstens: om die base daagliks te beveg en tweedens, om ‘n revolusie te skep deur werkers en armes te organiseer om die plase, myne en fabrieke terug te vat.  Die CNT was ‘n libertariese sosialistiese (anargo-sindikalistiese) federasie.

Die CNT het ‘n baie militante en suksesvolle gevoer teen die regering en die base gevoer.  Teen 1936 was dit die grootste vakbond in Spanje, met byna 2 miljoen lede. Tog het dit demokraties gebly.  Ten spyte van sy grootte het die CNT nooit meer as een betaalde amptenaar gehad nie.

Die libertariese sosialiste (anargo-sindikaliste) het nie net die werksplekke georganiseer nie:  Die FAI het in vakbonde geveg vir meer demokrasie, hulle het huishuurstakings in arm gebiede georganiseer en het die afgeskeepte jeug en vroue georganiseer.

Die CNT het plaaswerkers, werkloses en selfs werkende plattelanders ingesluit. Dit het selfs die werkers se skole georganiseer!

Gedurende Julie 1936 het die fasciste, gelei deur generaal Franco en geondersteun deur die base en die kerk, probeer om Spanje oor te neem.

Die fasciste het aan ‘n verregse regering geglo en is deur die base gebruik om die werkersbewegings en  stryd met geweld te vernietig.

Die verkose regering (bekend as die “populêre front”, ‘n koalisie van linksgesinde partye) was onwillig en onmagtig om met die fasciste af te reken.  Hulle het selfs ‘n regsdesinde eerste minister aangestel om die fasciste te probeer tem. Hoekom? Omdat hulle liewer tot ‘n vergelyk met die fasciste wou kom en sodoende hulle mag en rykdom behou as om die werkers en armes te bewapen vir selfverdediging.

Die revolusie begin

Gelukkig het die plattelanders en werkers nie vir die regering gewag nie.  Die CNT het ‘n algemene staking uitgeroep en het hul lede bewapen vir weerstand teen die beoogde oorname deur die fasciste.

Sodoende het die mense die fasciste in twee derdes van Spanje gekeer.  Dit het vinnig duidelik geword dat die oorlog teen die fasciste die begin van ‘n revolusie was.

Libertariese sosialistiese (anargo-sindikalistiese) invloed was orals merkbaar: werkers het hulle eie regering-onafhanklike milisies gebou.  Werkers het hul werksplekke en plattelanders die plase oorgeneem.

Die plattelanders neem die plase terug

Arm plattelanders en plaaswerkers het onder wreedaardige toestande geleef.  Hongerlyding en verdrukking was iets alledaags.  Dus is dit skaars verbasend dat libertariese sosialisme (anargo-sindikalisme) besonder populêr was in die platteland.

Gedurende die revolusie het min of meer 7 miljoen plattelanders aan vrywillige kollektiewes in die antifascistiese gebied deelgeneem.  Na die vorige eienaars gevlug het, het die dorpsmense ‘n vergadering gehou om te besluit of hulle ‘n kollektief wou stig.  Waar hulle besluit het om te kollektiviseer, is die plase, vee en gereedskap saamgevoeg vir die hele kollektief se gebruik.

Die individue wat nie deel wou neem aan die kollektiewes nie, is NIE gedwing nie. Hulle is met genoeg grond om op te boer voorsien, maar is verbied om arbeiders te huur. Die meeste van hierdie “individualiste” het op die ou end by die kollektiewe aangesluit toe hulle sien hoe suksesvol die kollektiewe was.

Die werkers neem die fabrieke oor

Libertariese sosialisme (anargo-sindikalisme) het massiewe veranderings in die nywerhede geïnspireer: werkers het hul werksplekke oorgeneem en hulle self bestuur tot hul eie en die plattelanders se voordeel.

Die trembuswerkers

Die trembusstelsel is nog ‘n goeie voorbeeld van hoeveel beter ons dinge kan doen onder werkersbestuur: op 24 Julie 1936 het die trembuswerkers besluit om die hele trembusstelsel oor te neem.  Binne 5 dae was daar 700 trembusse in diens, i.p.v. die normale 600. Lone is gelyk gemaak en werkskondisies verbeter. Gratis mediese dienste is verskaf.

Almal het daaruit voordeel getrek dat die trembusse onder werkersbestuur was.  Kaartjiegeld is verminder en ‘n verdere 50 miloen passasiers is vervoer. Tog is meer geld verdien en dit is gebruik om wapens vir die soldate te maak en om die vervoerstelsel te verbeter.  Sonder die kapitalistiese winsmotief het veiligheid belangrik geword en die aantal ongelukke is verminder.

Werkers se milisies

Aan die begin van die revolusie het die weermag ineengestort.  In sy plek het die vakbonde en linksgesinde organisasies die gewapende werkers en plattelanders in milisies georganiseer.  Daar was 150 000 vrywilligers om waar nodig te veg.  Die meerderheid was lede van die CNT.  Alle offisiere is verkies op voetsoolvlak en het geen spesiale voorregte gehad nie.

Vroue in die Spaanse revolusie

Vroue het voor die revolusie baie verdrukking verduur.  Hulle het geen wettige onafhanklikheid gehad nie,  hulle lone was baie laer as dié van mans en ongetroude vroue is nie toegelaat om sonder die aanwesigheid van ‘n man saans uit te gaan nie.

Gedurende die revolusie het baie mans en vroue hul ou, konserwatiewe idees oor vroue verander.  Vroue het as gelykes in die milisies geveg en was op alle vlakke van kollektivisering betrokke.  Maar nie alle seksistiese idees en gebruike verdwyn oornag nie en sekeres het oorleef.

Libertariese sosialistiese (anargo-sindikalistiese) vroue het in Mei 1936 ‘n vroue werkersbeweging, “Mujeres Libres” (vrye vroue) geskep.  Hulle doel was om vroue te bemagtig deur hulle selfvertroue te gee om aan die revolusie deel te neem en te veg vir hulle eie bevryding.  Hulle het ook die seksistiese idees van hulle manlike eweknieë beveg.

Mujeres Libres het in noue samewerking met die CNT, FAI en die Libertariese Jeug gewerk.  Hulle het besef dat die stryd teen die verdrukking van vroue ‘n deel is van die groter stryd teen alle verdrukking.  D.w.s. dat die stryd vir die bevryding van vroue deel is van die stryd teen die base en die regering.

Mujeres Libres het baie gedurende die revolusie reggekry: hulle het demokratiese skole vir vroue georganiseer, wettige aborsie en kontrasepsie verkry, die reg om te skei, kindersorgfasiliteite en lone gelyk aan die van mans verkry.

Prestasies

Die revolusie het bewys dat werkers, plattelanders en armes ‘n regeringlose samelewing kan skep.  Dit het bewys dat libertariese sosialistiese (anargo-sindikalistiese) idees en metodes (byvoorbeeld die bou van ‘n revolusionêre vakbond) kan werk.  Dit het ook gewys dat die imperialisme die vyand van alle werkers is: die fasciste het die koloniale Noord-Afrikaanse weermagte gebruik om Spanje aan te val.

Daar was ook probleme in Spanje: dit is onvermydelik. Hulle word in ander WSF pamflette en ander materiaal bespreek.

Die punt wat ons probeer deurdruk, is dat, gegee die regte omstandighede, samewerking en wedersydse bystand sal groei.  Die geskiedenis is nie neutraal nie:  ons word op skool geleer dat ons regerings, regeerders en die kapitalisme nodig  het.  Ons word nie vertel van al die kere waar regering onnodig is nie.  Die mens is nie van nature sleg nie.

Sluit by die WSF aan

Ons het meer as net “mooi idees”.  Ons het goeie idees!  Die geskiedenis wys vir ons dat hierdie idees werk.  ‘n Nuwe samelewing met werkers in beheer kan werk.  Maar dit sal nie spontaan gebeur nie: ons moet daarvoor organiseer.

Daarvoor het ons ‘n revolusionêre politieke organisasie nodig om ons:

  • wat vir werkersbeheer veg, bymekaar te bring,
  • ‘n kans te gee om mekaar van ons idees en ondervindings bewus te maak,
  • te help leer oor die eintlike geskiedenis,
  • te help veg vir die nuwe samelewing en
  • te help om die vakbonde te verander na die gereedskap van die revolusie.

Ons verskil van politieke partye (byvoorbeeld die ANC, PAC en AZAPO) deurdat ons nie glo dat vryheid deur die regering kan kom nie.

Ons glo ook nie dat die kapitaliste en regeringsleiers ooit in dieselfde partye as werkers hoort nie.  Al wat dan gebeur, is dat die werkers se belange tweede kom om die “eenheid” tussen die klasse te bewaar.  Ons glo ook nie dat die kapitalistiese stelsel, “mededinging”, “ekonomiese groei” of “samewerking in die werksplek” vryheid kan gee nie.

Ons het nie organisasies wat aan verkiesings deel neem, nodig nie.  Ons het nie leiers en hulle passiewe volgelinge nodig nie.  Ons het ‘n organisasie nodig wat mense leer en help om hulself te bevry.

As jy saamstem met wat jy hier gelees het, behoort jy by so ‘n organisasie aan te sluit. Word ‘n lid van die WSF.


Workers Solidarity Federation

  1. Ons opponeer die kapitalisme en regerings omdat hulle strukture vir dominasie en uitbuiting deur die regeerders en leiers is.
  2. Ons opponeer alle vorms van verdrukking: rassisme, seksisme, homofobie, imperialisme, omgewingsvernietiging ens.  Die regering en die kapitalisme is die hoofoorsake hiervan.
  3. Ons opponeer mag oor ander se lewens.  Ons ondersteun maksimale persoonlike vryheid so lank as wat dit nie ander se vryheid inperk nie.
  4. Massa aksie en revolusie deur die werkers en armes is die enigste metode om van die kapitalisme, die regering en verdrukking ontslae te raak.
  5. Net die werkersklas, die werkende plattelanders en die armes kan ‘n vrye samelewing skep, omdat net ons, die werkers, die organiseringsmag, grootte en klasbelange het om dit te doen.
  6. Die vakbonde en demokratiese werkersklas organisasies sal die hoofmag van die revolusie wees.  Die vakbonde moet die fabrieke, plase, myne en kantore oorneem en demokraties organiseer.
  7. Die mikpunt van die revolusie is om ‘n internasionale libertariese sosialistiese samelewing, deur werkers- en gemeenskapsrade beheer en deur werkers milisies verdedig, te skep.
  8. Die rol van die WSF is NIE om die massas te lei of te regeer nie.  Sy rol is om die massas te organiseer en op te lei om self die revolusie te skep.  Ons ondersteun hedendaagse vakbonde.
  9. Ons ondersteun alle progressiewe stryd om ons lewens te verbeter.

Ons staan trots in die massatradisie van libertariese sosialisme (anargo-sindikalisme).  Ons is NIE Marxiste nie.  Ons beweging het in die verlede miljoene om die wêreld aangetrek, omdat dit na die behoeftes van die werkers en die armes omsien en NIE dié van magsoekers en uitbuiters nie.

Word ‘n lid as jy hiermee saamstem.